Bloemfontein Kameraklub
“Die Klubhuis” — Opening & Inwydingsgeleentheid — 26 Maart 2026
Bloemfontein Kameraklub: “Die Klubhuis”
Hoe, waar en wat?
Om dié vrae te beantwoord kan ‘n bietjie bymekaarkom-geskiedenis in oënskou geneem word. Vir baie jare het Bloemfontein Kameraklub in ‘n ouditorium by die Bloemfontein Nasionale Museum vergader. Dit was in die tyd van films en skyfies.
Maar tye het verander. Dit het onveilig en gevaarlik geword om saans by die Museum te vergader. Die bymekaarkomplek het oor ‘n tydperk gewissel van by o.a. Oranje Meisieskool, die St James Kerk in Heuwelsig en die laaste 7 jaar by die Planetarium op Naval Hill. Laasgenoemde was ‘n mooi en gerieflike vergaderplek. Tegnologie- en nuwe huurvereistes het verhuising genoodsaak. Verskeie moontlike vergaderplekopsies is ondersoek. Moontlike plekke het egter almal bepaalde lastige tekortkominge gehad.
‘n Klompie kiekiesafari’s het by klublid, Fanus Theron, se hoewe te Bainsvlei, Bloemfontein plaasgevind. Die een ding lei tot ‘n ander en Fanus bied ‘n skuur aan as ‘n moontlike bymekaarkomplek. Weliswaar moet sekere goed met die skuur gebeur om dit geskik vir die klub te maak.
Somme word gemaak na verkryging van kwotasies. Gelukkig was daar spaargeld en die projek kry die groen lig. Bloemfontein Kameraklub kry ‘n nuwe bymekaarkomplek. Iemand doop dit “Die Klubhuis”. Die Therons skep met innoverende, dog treffend minimalistiese dekor, verder ook ‘n heerlike atmosfeer van tuiskoms.
Ons stel bekend: “Die Klubhuis”
“Die Klubhuis” Ingewy
Op 26 Maart 2026 om 18:30 word die nuwe bymekaarkomplek van die Bloemfontein Kameraklub amptelik ingewy en gebeur dit by wyse van ‘n kaas- en wyngeselligheid.
Die Klub is bevoorreg om vereer te word met die teenwoordigheid van Nicol du Toit, eerste Visepresident van PSSA en sy eggenoot, asook ander gaste, byname voormalige Klubpresident Marius Saunders, Peet en Marna Venter van Ventronics, ‘n toerustingverskaffer en kundige tegnici, byname Darus van den Berg vergesel deur sy vrou Chorné, Gavin Coetzer, Senior Beampte verbonde aan die Departement Inligting- en Kommunikasietegnologie van die Vrystaatse Universiteit en Juandré Badenhorst, ‘n kenner van DaVinci Resolve, ‘n film-en-videosagtewareprogram. Ook teenwoordig Charles Smith van Netwerk24 en sy vriendin Rozaan Ridemann.
Na die verwelkomingswoord deur die klubpresident, Koot Marais, vergas Charles Whitehead ons met ‘n netjiese oudiovisuele aanbieding oor die klubgeskiedenis. Tereg maak hy melding van die feit dat die klub ‘n bymekaarkomplek is vir persone met ‘n belangstelling in fotografie, dat dit nie net ‘n leerskool is nie, maar ook ‘n plek waar vriendskappe die afgelope reeds meer as 70 jaar gesmee word.
Prof Nico Smith lewer ‘n interessante aanbieding oor die ontwikkeling van fotografie tydens die bestaan van Bloemfontein Kameraklub met sy aanbieding “Toe, Nou en die Toekoms”.
Daarna gekuier almal heerlik saam en raak opgewonde oor die toekoms van en pad vorentoe vir Bloemfontein Kameraklub.
Foto’s — Klubhuis Opening






















